20 Maart 2019

 

Om jou op hoogte te bring met sleutelaspekte wat tydens die Raad se vergadering op 18 Maart 2019 bespreek en besluit is.

1. Benoemings- en aanstellingsproses van 'n NWU-kanselier

2. Beleide en reëls
3. Hernoeming van die Regsentrum op die Mafikengkampus

4. Vordering met kultuurhersiening vir personeel en studente

5. NWU-inskrywingsplan 2020–2025

6. Bestuursverslag

7. Voorkeurverkryging

8. Vordering: ondersoek na bewerings van plagiaat

 

Benoemings- en aanstellingsproses van 'n NWU-kanselier

Die tweede ampstermyn van Kgosi Leruo Molotlegi as die kanselier van die NWU sal op 26 September 2019 verstryk.


Die raad het besluit om die benoemingsproses oop te laat tot verdere kennisgewing. Benoemings vir die vul van die vakature kan van die volgende kom:
  • Raadslede
  • Universiteitsbestuurskomitee
  • Senaat
  • Akademiese personeel
  • Lede van erkende vakbonde
  • Ondersteuningspersoneel
  • Studente
  • Konvokasie
  •  

     

     

     

     

     

     

     

     

     

     

     

     

    Klik hier vir meer inligting oor die benoemingsproses en om toegang tot die benoemingsvorm te verkry.

    Beleide en reëls

    Die volgende beleide en reëls is goedgekeur en sal binnekort by http://www.nwu.ac.za/af/content/beleide-en-reels beskikbaar wees:

  • Onderrig, leer en assesseringsbeleid
  • Toelatingsbeleid
  • Beleid en reëls tov. verklaring van belange en van geskenke
  • Beleid oor byeenkomste en betogings
  • Hernoeming van die Regsentrum op die Mafikengkampus

    Die Fakulteit Regte bedryf regshulpsentrums op ons kampusse in Mahikeng en Potchefstroom en in Mbombela in Mpumalanga. Die sentrum op ons kampus in Mahikeng word die Sentrum vir Gemeenskapsreg genoem.

    Die Raad het goedgekeur dat dié sentrum onmiddellik na die Regskliniek Mahikeng herdoop word om die name van die regshulpsentrums op alle persele te belyn en om verwarring te voorkom.

    Vordering met kultuurhersiening vir personeel en studente

    Die Raad het kennis geneem van die vordering wat ten opsigte van die kultuurhersieningsprojek onder personeel en studente gemaak word. Die doel van die projek is om 'n gedeelde kultuur onder personeel en studente te skep wat met die universiteit se strategie ooreenstem. Die projek het vier fases: (i) om die NWU se bestaande kultuur te evalueer, (ii) om die nuwe NWU-kultuur te ontwerp, (iii) om die NWU se reis van verandering te ontwerp, en (iv) om die nuwe NWU-Manier oor die drie kampusse heen te institusionaliseer. Die projek is tans in fase 1, wat behels dat kultuurgesprekke met personeel (30 sessies) en met studente (25 sessies) gevoer word.

    Die uitkoms van hierdie gesprekke sal na verwagting 'n gedetailleerde prentjie van die heersende NWU-kultuur gee.

    NWU-inskrywingsplan 2020–2025

    Die konsepinskrywingsplan het voor die Senaatsvergadering van 29 Augustus 2018 gedien, waarna dit aan die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) voorgelê is. Die DHOO het in November 2018 'n nasionale inskrywingsbeplanningswerkswinkel aangebied om die verskillende aspekte te bespreek wat universiteite in hulle inskrywingsbeplanningsproses moet oorweeg. Dit is op 27 November 2018 deur 'n vergadering tussen die NWU en DHOO se verteenwoordigers gevolg.

     

    Ná konsultasie met die fakulteite en die universiteitsbestuurskomitee (UBK), sal die finale inskrywingsplan aan die Senaat voorgelê word. As gevolg van tydsbeperkings (aangesien die plan op 15 April 2019 by die DHOO ingedien moet word) het die Raad kennis geneem van die proses en ook van die voorgestelde finale inskrywingsteikens. Ná goedkeuring deur die Senaat moet die Raad nog die finale inskrywingsplan goedkeur.

    Bestuursverslag

    Die Raad het kennis geneem van vordering ten opsigte van die implementering van die universiteit se strategie en bestuur met die prestasie gelukgewens.

     

    Dié prestasies sluit in:

    • Die NWU bly een van die topsewe hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika ten opsigte van navorsingsuitsette – die enigste instelling sonder 'n mediese skool in hierdie kategorie.
    • In 2018 was die NWU in die sesde plek in Suid-Afrika vir die getal Nasionale Navorsingstigting-gegradeerde (NNS-gegradeerde) navorsers. Die universiteit het 236 NNS-gegradeerde navorsers.
    • 14 nasionale en internasionale navorsingstoekennings.
    • Die NWU is as die topuniversiteit vir innovasie in Suid-Afrika aangewys (SARIMA Report, 2017).
    • Die Afrika-unie vereer die DWT SARChl-leerstoel.
    • 'n Gesogte NNS-toekenning vir ruimtenavorsing.
    • Vyf uit vyf sterre in die QS-gradering vir onderrig-leer, innovasie en die indiensneembaarheid van ons gegradueerdes.
    • Verskeie topposisies op die wêreldwye akademiese ranglys van wêrelduniversiteite (ARWU).
    • Nasionale erkenning vir 'n verskeidenheid akademiese programme.

    Die bestuur se fokusareas in 2019 sluit in:

    • Belegging in die NWU-kultuur om die implementering van ons strategie te verbeter en te konsolideer.
    • Bevordering van die ontwikkeling van personeel en kurrikulum met die oog op die integrasie van tegnologie in onderrig-leer en 'n vervlegdeleerervaring vir kontak- en afstandstudente.
    • Skep van 'n bevorderlike, volhoubare en ondersteunende omgewing om navorsingsuitnemendheid te verbeter.
    • Nastreef van die beplanning en implementering van meertalige steun vir studente en die ontwikkeling van meertalige pedagogieë vir personeel.
    • Diversifisering van inkomstestrome en verbetering van bedryfskostedoeltreffendheid en effektiwiteit.
    • Verbetering van die studente- administratiewe stelsel om dienslewering te bevorder, transaksiekoste van ondersteuningsdienste te verlaag en omkeertyd te verminder.

    Voorkeurverkryging

    Die NWU is tans op vlak 8 ten opsigte van die nakoming van breë swart ekonomiese bemagtiging (BSEB) en dit bied uitdagings wanneer die universiteit vir eksterne projekte tender om sy derdestroominkomste te verhoog. Die Raad het gevolglik besluit om maatreëls in te stel om die probleem te hanteer ten einde die finansiële volhoubaarheid van die universiteit te verseker. Om hierdie rede het die Raad die volgende beginsels goedgekeur:

     

      1. Die insluiting van die KBOR-graderingstelsel in die tenderproses vir boukonstruksietenders.
      2. Die insluiting van maatskappy-aandeelsertifikate soos deur die KMIE gevalideer by die tenderproses.
      3. Gebruik van die regering se sentrale verskafferdatabasis in die verkrygingsproses.
      4. Validering van die BSEB-sertifikaat van die diensverskaffer wat aanbeveel word tydens die finale stap van die verkrygingsproses (met ander woorde wanneer die topdrie tot vyf tenders geëvalueer word).
      5. Die bevestiging dat NWU-verkrygingsadvertensies wyd geplaas moet word om te verseker dat advertensies wyd ontvang word, en die insluiting van advertensies op die Purchasing Consortium (PURCO) se webwerf.
      6. Die insluiting van persentasies oor swart besit by verslae van die tenderkomitee.
      7. Die stel van 'n teiken van 50% tot 60% van totale verkrygingbesteding vir voorkeurverkryging (swart besit), maar met geen toegewings oor prys en gehalte nie.
      8. 'n Verskaffer- en ondernemingsontwikkelingsbesteding van R10,8m per jaar om verskaffers en eienaars van ondernemings in swart besit op te lei en te ontwikkel.
      9. 'n Paneel van professionele konsultante vir konstruksieprojekte moet gekies en dan per projek aangestel word.
      10. 30% van verkryging moet toegewys word aan klein plaaslike verskaffers wat geleë is in die stad/dorp waar die betrokke kampus is.

    Die universiteit sal met belanghebbers oor hierdie beginsels kommunikeer. 'n Hersiene NWU-verkrygingsbeleid wat op hierdie beginsels gegrond is, sal na verwagting by die volgende Raadsvergadering dien.

    Vordering: ondersoek na bewerings van plagiaat

    Op 10 Mei 2017 het die NWU bewerings van plagiaat teen 'n paar van sy akademici van die Raad op Hoër Onderwys (RHO) ontvang. Hierdie bewerings is in 'n baie ernstige lig beskou, veral toe media-artikels in Julie van dieselfde jaar gepubliseer is wat ander personeellede betrek het as dié van wie die universiteit deur die RHO bewus geword het. Kragdadige prosesse is ingestel om die egtheid van die bewerings te bepaal.

     

    As gevolg van die sensitiwiteit van die saak het die universiteit met 'n ondersoek begin, en het 'n streng proses in plek gestel wat die volgende fases behels: 'n tegniese ondersoek deur 'n plagiaatkundige, aanstelling van 'n paneel van kundiges op die vakgebied om die tegniese verslag te oorweeg, en die betrokkenheid van 'n eksterne oorsigpaneel onder die onafhanklike voorsitterskap van 'n voormalige waarnemende regter. Ondersteuning is ook deur 'n onafhanklike regskundige verskaf.

     

    Tydens die universiteitsraadsvergadering op 18 Maart 2019 het die Raad kennis geneem van die vordering met die ondersoek, waarby 21 huidige en voormalige personeellede betrokke is.

     

    Ten opsigte van 10 persone wat betrek is en in diens van die NWU is, is geen prima facie-getuienis gevind wat op plagiaat dui nie. Hierdie personeellede is dienooreenkomstig ingelig.

     

    Teen twee persone wat betrek is en wat in die diens van die NWU is, is 'n prima facie-saak ten opsigte van wanvoorstelling en plagiaat gemaak. Die proses ten opsigte van hierdie personeellede is deur die universiteit afgehandel. Met inagneming van alle bewyse en omstandighede, is daar besluit om hierdie personeellede te berispe en hulle opdrag te gee om die NWU terug te betaal ten opsigte van die bladsygelde wat vir die publikasie van die betrokke artikel betaal is.

     

    Ten opsigte van vyf ander personeellede wat betrek is en in die diens van die NWU is, is voldoende bewyse gevind wat op wangedrag gedui het. As gevolg van die feit dat die tegniese verslag gedui het op beweerde netwerke van moontlike akademiese samewerking tussen groepe navorsers, het die paneel egter aanbeveel dat die tegniese ondersoek verleng moet word. Die opvolg- tegniese ondersoek is afgehandel en sal nou aan die span kundiges op die vakgebied beskikbaar gestel word om die verslag te oorweeg en dienooreenkomstig aan die eksterne oorsigpaneel te rapporteer.

     

    Prima facie-getuienis van plagiaat en vervalsing is ook gevind teen 'n ander personeellid wat betrek is en in diens van die NWU is. Dit was in 'n artikel wat geskryf is in die tydperk voordat die persoon in diens van die NWU was. Teen die agtergrond van voorgaande, het die paneel die visekanselier aangeraai om van die getuienis kennis te neem. Die uitvoerende dekaan wat die saak gerapporteer het, is van die advies van die eksterne oorsigpaneel in kennis gestel.

     

    Ten opsigte van drie ander individue wat intussen die diens van die universiteit verlaat het, is prima facie-getuienis gevind wat op akademiese wangedrag, insluitend plagiaat, dui. Die Raad het die voorstel deur die eksterne oorsigpaneel bevestig dat die registrateur die nasionale hoërondewysstrukture se aandag vestig op die moontlike toepaslikheid om 'n platform te stig om inligting te deel oor sake wat akademiese integriteit aan die onderskeie universiteite skend. Die registrateur sal hierdie voorstel verder voer.

     

    Die Raad het weer beklemtoon dat enige optrede wat akademiese integriteit skend deur enigiemand wat met die universiteit geassosieer word, in die sterkste moontlike terme veroordeel word, en indien dit waar bewys word, sal daar in ooreenstemming met die universiteit se dissiplinêre maatreëls teen die betrokke partye opgetree word. Die Raad het ook sy waardering uitgespreek teenoor bestuur vir die strengheid wat met die hantering van die saak aan die dag gelê is.

    Die volgende Raadsvergadering vind op 20 Junie 2019 plaas.

    Kontak Amanda van der Merwe vir meer inligting.